Na die identifisering van ’n behoefte in die aftreeoordmark, stel die Stellenboschse eiendomontwikkelingsmaatskappy Lazercor die opwindende nuwe Monte Christo Aftreeoord bekend. Die moderne kompleks is ontwerp om ’n waardige en veilige lewenstyl vir die aftreejare te verseker. Dit is geleë op die Tuinroete in die skilderagtige Mosselbaai wat, volgens die Guinness Book of Records, spog met die tweede beste gematigde klimaat in die wêreld, naas Hawaii.
Die Lazercor-span het ondersoek ingestel na die plaaslike en internasionale aftreeoordmark en gevind dat daar ’n buitengewone behoefte in Suid-Afrika is vir meer aftreeoorde want waglyste is dikwels tussen sewe en nege jaar lank. Lazercor-direkteur Mark Teuchert, ’n siviele ingenieur met ’n Meestersgraad in eiendom, is al meer as 30 jaar in die konstruksiebedryf.
“Ons ontwikkel eiendomme in elke sektor van die mark en volg ekonome baie noukeurig sodat ons nie ontwikkel waar daar geen behoefte is nie. Toe ons oor hierdie projek moes besluit, was daar ’n groot behoefte vir aftreeoorde in die land,” sê Teuchert.
“Tydens ons ondersoek na die aftree-eiendombedryf, het ons gesien dat baie ander maatskappye wat aftreeoorde ontwikkel dit só doen dat die ontwikkelaar ’n finansiële annuïteitsvergoeding kry ten koste van afgetrede mense. Ons het nie hierdie benadering gevolg nie, want dit maak net nie sin om van bejaardes geld weg te neem nie en ons glo daarin om mense regte tot hul eiendom te gee.”
In November 2006 het Lazercor net onder vier hektaar grond in Mosselbaai gekoop om een van die mees tegnologies gevorderde aftreeoorde in die land te bou. Hulle het ’n gemeenskap in die vooruitsig gestel wat sy inwoners fisiese veiligheid, finansiële sekuriteit en eersteklas gesondheidsorg in hulle aftreejare voorsien.
Spesiale aandag is aan elke fase van die projek gegee om seker te maak dat sekuriteit op alle fronte gedek is. Finansieel sal Monte Christo gekoppel wees aan ’n heffingstabiliseringsfonds. Ten opsigte van gesondheidsorg bied die oord ’n verpleegster wat ten alle tye aan diens is asook ’n ambulansdiens in geval van enige noodgevalle. Die mediese personeel sal voorsiening maak vir ’n verskeidenheid behoeftes, van 24-uur versorging vir verswaktes tot versorging vir net ’n paar uur op ’n dag.
Die indrukwekkendste kenmerk van die oord is ten opsigte van fisiese sekuriteit en gee inwoners maklike toegang tot versorging in noodgevalle. Die oord sal toegerus wees met ’n moderne webgebaseerde sekuriteitskamerastelsel met kameras op die meeste areas van die oord en elektriese omheining reg rondom. Besoekers sal met kameras gemonitor word wanneer hulle die perseel betree en verlaat, terwyl toegang vir inwoners met vingerafdruk- en gesigsherkenningstegnologie sal werk.
“’n Baie belangrike aspek vir ons was toegang tot nooddienste. Mense in aftreeoorde het soms ongelukke en kan dan nie vinnig genoeg toegang tot nooddienste kry nie, wanneer hulle byvoorbeeld nie ’n telefoon iewers op ’n ander plek in die vertrek in die hande kan kry nie. Ons het ’n Persoonlike Noodbestuurstelsel (PNBS) ontwikkel wat omtrent so groot soos ’n halwe selfoon is en wat ter alle tye aan die persoon gehou word. Indien die persoon val, registreer die toestel die versnelling en stuur ’n boodskap aan een van die verpleegsters aan diens of na enige ander e-posadres of selfoonnommer wat die persoon aan die toestel gekoppel wil hê,” verduidelik Teuchert.
Die toestel het ook ’n paniekknoppie en is gekoppel aan ’n GPS. Wanneer die paniekknoppie geaktiveer word, wys ’n skerm in die beheerkamer wáár in die oord die inwoner is en ook dadelik die persoon se mediese geskiedenis.
Vir daaglikse gemak sal al die telefone in die huise gekoppel word aan ’n hoogs gevorderde interkomstelsel sodat inwoners gratis oproepe na mekaar en versorgingspersoneel kan maak. Elke woonstel sal ook ’n videofoon en internetkoppeling hê sodat inwoners kontak met hulle kinders en ander gesinslede kan hou.
Die ontwikkeling sal uit drie fases bestaan: Fase 1, Enkelresidensieel met 43 enkelresidensiële huise; Fase 2, De Caravel, met 56 woonstelle naby die mediese sorgfasiliteite en ander geriewe, met inbegrip van ’n klubhuis en al die geriewe daarby ingesluit en Fase 3, Berglangs, met 49 woonstelle. Sover is drie huise voltooi en paaie en ander dienste is reeds geïnstalleer. Daar word beplan dat konstruksie vir die res van die ontwikkeling teen April 2012 voltooi sal wees.
Projekbestuurder vir Lazercor, Stephen Kreuger, sê drie egpare het reeds in die huise ingetrek en het hul tevredenheid met Monte Christo se dienste en fasiliteite uitgespreek. Hy sê: “Dit was beslis die lonendste ding van hierdie projek, om te sien hoe die eerste paar mense intrek en die oord geniet.”
Vir meer inligting oor Lazercor of Monte Christo Aftreeoord, kontak asseblief:
Stephen Kreuger, Projekbestuurder vir Lazercor.
Tel: 072 3365 337
Webwerf: www.lazercor.com
